Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS – SONDAG 23 NOVEMBER 2008

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat ons moet aankondig dat Ian Hunter, ZS5IH, die aand van 19 November oorlede is. Ian was ’n aktiewe lid van die Highway Amateurradioklub en is onlangs tot sekretaris verkies, maar moes weens swak gesondheid bedank.

Aan sy vrou Anne en familie – ons innigste meegevoel.

(POUSE)

In die nuus vandag:

GROOT DAG VIR SUID-AFRIKA BY DIE IARU-STREEK 1 SE FINALE VOLTALLIGE VERGADERING

SARL-NUUS HET GEFOUTEER

AFDELING 6 SE SATELLIETWERKINGGROEP GAAN AKTIWITEIT BEVORDER

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

GROOT DAG VIR SUID-AFRIKA BY DIE IARU-STREEK 1 SE FINALE VOLTALLIGE VERGADERING

Dit was ’n groot dag vir Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse Radioliga verlede Donderdag toe die IARU-Streek 1 se finale voltallige vergadering van die 2008-driejaarlikse konferensie in Kroasië, gehou is. SARL-raadslid en redakteur van Radio ZS, Dennis Green, ZS4BS, is as sekretaris van die Uitvoerende Komitee verkies. Die Uitvoerende Komitee bestuur die sake van die IARU-Streek 1 tussen die driejaarlikse konferensies. Dennis is die tweede SARL-raadslid om ’n lid van die IARU-Streek 1 se Uitvoerende Komitee te word. Hans van de Groenendal, ZS6AKV, het vir drie termyne op die Uitvoerende Komitee gedien. Die sekretaris is ’n senior- en sleutelposisie op die komitee. Veels geluk Dennis.

Die nuut aangestelde komitee is:

President: Hans Blondeel Timmerman, PB2T;
Visepresident: Tafa Diop, 6W1KI;
Sekretaris: Dennis Green, ZS4BS;
Tesourier: Andreas Thiemann, HB9JOE;
Lede: Hani Raad, OD5TE, Betty Magnin, F6IOC, Nikola Oercin, 9A5W, Panayot Danev, LZ1US, en Colin Thomas, G2PSM.

Die tweede groot gebeurtenis tydens die gesamentlike vergadering was die aankondiging dat Suid-Afrika met ’n groot meerderheid gekies is om gasheer te wees vir die 2011-kongres. Die stemming was soos volg: SARL 22 stemme, URE 15 stemme en RSGB 10 stemme. Die konferensie sal in September 2011 by Sun City gehou word.

Voorbereidings vir die vergadering sal so te sê onmiddellik begin nadat die organiserende komitee aangewys is by die volgende SARL-Raadsvergadering wat vroeg in Desember gehou sal word.

Sluit volgende Sondag by Dennis en Rassie aan wanneer hulle, tydens die President se Net om 19:30, verslag sal doen oor die konferensie.

SARL-NUUS HET GEFOUTEER

Een eenvoudige woordjie het die betekenis van die boodskap oor die publikasie van die lys van persone wie se lisensies nog nie betaal is nie, verander. OKOSA het ’n lys op die web by www.icasa.org.za, gepubliseer van onbetaalde lisensiefooie. Klik op “Frequency Spectrum advertisment” en van die volgende bladsy is daar ’n Excel-sigblad met besonderhede van onbetaalde lisensies.

Indien u naam op die lys verskyn en u het wél u lisensie betaal, kontak “Supervisor Collections”: Lindsay Le Roux op 011 566 3895 of per e-pos na lleroux@icasa.org.za of faks na 011 566 3896 met u betalingsbesonderhede. Die finale datum hiervoor is 28 November 2008, waarna alle onbetaalde lisensies gekanselleer sal word.

Indien u een van die RAE-eksamens gedurende hierdie jaar geskryf het en u naam verskyn op die lys, moet u geen aksie neem nie. Die SARL en OKOSA is bewus van die probleem en het dit reggestel.

Ons vra verskoning vir dié glips.

AFDELING 6 SE SATELLIETWERKINGGROEP GAAN AKTIWITEIT BEVORDER

Hal Lund, ZS6WB, was gasheer by ’n vergadering van satelliet-entoesiaste wat by sy huis byeengekom het. Besprekings het gehandel oor die karaktertrekke van satelliete wat tans aktief is en die voorgestelde tegniese prosedures wat gevolg moet word. Edie Leighton, ZS6BNE, is as spreekbuis vir die groep verkies en die opdrag gegee om die gebruik van satelliete in lae aardse wentelbane te bevorder.

SA-AMSAT is ook bespreek en almal teenwoordig het saamgestem dat indiwiduele lidmaatskap belangrik is aangesien die AMSAT-organisasie die hoofaanvoerder is vir die ontwikkeling en lansering van nuwe amateursateliete.

Hierdie samekomste is veral bruikbaar vir satellietgebruikers aangesien die kortstondige verbyvlug van ’n satelliet nie geleenthede skep vir geselskap en die bespreking van onderwerpe nie. Om ’n volledige verslag van die vergadering, en ’n opgradering van die Namibiese BHF- en satellietekspedisie, te lees, besoek www.amsatsa.org.za.

NETBEHEERDERS VIR WEEKLIKSE NASIONALE HF-NETWERKE BENODIG

Die Departement van Kommunikasie is besig om sy aktiwiteite aangaande amateurradio by leerders in skole en studente by tersiêre instellings vir verdere opleiding te bevorder. Die Departement en die SARL werk tans aan ’n Memorandum van Ooreenkoms wat die verskillende vlakke van betrokkenheid van die SARL en vrywillige klubs en individuele radioamateurs sal uitstip. Een van die vereistes is om ’n HF-net een of twee weeksoggende weekliks te bedryf. Die oogmerk van hierdie nette is om leerders en studente bekend te stel aan die radioamateurkultuur en hulle ten volle met die prosedures en toestande vertroud te maak.

Vrywilligers sal vanaf hul eie stasies op 40- en 20 meter werk. In sekere areas sal 2 meter-herhalers ook gebruik word. Hierdie netwerke sal op ’n vaste skedule werk.

Die SARL is tans besig om ’n lys van vrywilligers saam te stel, wat bereid is om ’n paar uur per week aan amateuraktiwiteite af te staan. Indien u u dienste wil aanbied, stuur asseblief u kontakbesonderhede aan youth@sarl.org.za. U naam, roepsein, telefoonbesonderhede en e-posadres, indien beskikbaar, sal baie handig te pas kom. Hier is ’n geleentheid om iets terug te gee aan u stokperdjie terwyl u doen waaroor dit alles gaan; gesels oor die lug.

WEBBLAAIE ONDERSKRAAG DIE PIC-PROJEKTE

Die eerste PIC-mikroskyfiekursus sal volgende Saterdag, 29 November, by die NARS gehou word en op 16 Desember die een by die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth. Hierdie twee kursusse is reeds ten volle bespreek. Voorbereidings vir die kursusse in Durban en Kaapstad is al ver gevorder. Besonderhede sal eersdaags bekend gemaak word. Die SARL beplan ’n verdere kursus vroeg in 2009 by die NARS. Nadere besonderhede sal eersdaags in SARL-nuus verskyn.

Die naweek se webblaaie wat aan PIC-projekte gewy word sal op die web beskikbaar word. Besoek www.sarl.org.za, kies “activities” en klik op ARMI.

KLUBNUUS

In ’n eerste vir ’n jong klub het die Kalahari-Karoo Amateurradioklub ’n ZU-kursus aangebied by die Kathu Tegniese kollege in samewerking met, en ondersteuning van die Boland Amateurradioklub.

Ses studente het ingeskryf van wie 5 onder die ouderdom van 20 jaar is en die jongste in graad 7 by die plaaslike laerskool is. Die kursus sal op 29 November 2008 eindig wanneer die studente die RAE sal aflê.

Tiaan, ZS3TB, ’n lektor in elektronika by die Kathu Tegniese Kollege, het die tegniese deel aangebied terwyl Johan, ZS3AAK, en Gerhardt, ZS3TG, die Reëls en Prosedure-afdelings aangebied het. Lesings is elke Saterdag van 1 tot 22 November aangebied.

Die 29ste sal ’n jaareindfunksie en ’n vergadering van die omgewing se amateurs behels.

’n Groot dankie aan OK Sam van Radio Accessories wat ’n prys vir die Beste Tegniese Student en ’n gelukkige trekking vir die 29ste borg.

Daar is ’n moontlikheid dat Dennis, ZS4BS, Visepresident van die SARL, by die geleentheid sal aansluit en ons meer vertel oor die onlangse konferensie, asook aktiwiteite van die SARL.

Die Oos-randtak se herhaler op 145,675 MHz, wat in Brakpan geleë is, spog met 'n splinternuwe toring en antenna.

Na 30 jaar se getroue diens, is die uitgediende toring deur 'n nuwe 12 meter-toring, met 'n 6 m-mas vervang wat vier gestapelde 2 meter-dipoolantennas huisves. Hierdie toring en mas staan knus bo-op 'n 18 meter-hoë watertoring.

Die tak versoek alle amateurs om die herhaler te gebruik en om die werkverrigting aan hulle te rapporteer. Die ERB bedank graag al die amateurs wat met hierdie reusetaak gehelp het. Die tak vertrou dat dit nie binne die volgende 30 jaar weer vervang moet word nie.

KOMPETISIENUUS

UITSLAE VAN DIE 80 METER-QSO-GESELLIGHEID

Die uitslae van die tweede been van die SARL se 80 meter-QSO-geselligheid wat in Oktober gehou is, is vrygestel. Die uitslae is soos volg:

1ste Jan Botha, ZS4JAN, [Bloemfontein RAK] - 615 punte;
2de Marius Preston, ZS4MP, [Sasolburg ARK] - 590 punte;
3de Geoffery Levey, ZS6GRL, - 400 punte;
4de Jo Snyders, ZR5PO, [Zululand ARK] - 330 punte, en
5de Theunis Potgieter, ZS2EC, [PEARS] - 130 punte.

Die gekombineerde uitslae van beide bene van die SARL se 80 meter-QSO-geselligheid is soos volg:

1ste Jan Botha, ZS4JAN, - 1 295 punte;
2de Marius Preston, ZS4MP, - 590 punte;
3de Ruaan Schoeman, ZS6RMS, - 530 punte;
4de Angeline van der Merwe, ZU4AN, en Philip Esterhuizen, ZU4PC - 470 punte;
5de Geoffery Levey, ZS6GRL, - 400 punte;
6de Jo Snyders, ZR5PO, - 330 punte;
7de Oosrand ARC, ZS6ERB, - 195 punte. en
8ste Theunis Potgieter, ZS2EC, - 130 punte.

PEARS HF-QSO-GESELLIGHEID

Die jaarlikse Port Elizabeth Amateurradio-geselligheid is geskeduleer vir Sondag 14 Desember van 12:00 tot 16:00 UTC (14:00 tot 18:00 SAT). Dit is ‘n ESB-kompetisie en die volgende frekwensies is van toepassing: 3,603 tot 3,800 MHz en 7,043 tot 7,100 MHz. Daar is 4 inskrywingskategorieë:

Beginners – stasies in Suid-Afrika met ‘n ZU-roepsein;
Beperk – ZR-stasies in Suid-Afrika;
Onbeperk – ZS-stasies in Suid-Afrika, en
DX - stasies buite Suid-Afrika se grense.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal tot 26 November onstuimig wees waarna dit stil sal wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15- en 20 m-openinge, vanaf onderskeidelik 12:00 en 15:00 SAT na Indië.

Kontakte met Nieu-Seeland gaan baie uitdagend wees. Om 08:00 is daar moontlike flou 20 m-openinge na Australië. Swak kontakte met Peru is om 08:00 vir 'n kort rukkie op 20 m moontlik. Brasilië kan waarskynlik op 15 m vanaf 12:00 gewerk word en op 20 m vanaf 18:00. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike swak 15 en 20 m-openinge na Europa.

Kontakte met die VSA se ooskus is op 15 m om 18:00 moontlik. 10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer.

Saans is 80 m die beste keuse. Met die somer hier kan die donderstorms en geraas agv, statiese ontladings uitdagende toestande lewer.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF u steeds kan verras. Skakel u stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat u deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

28 November - Laaste dag vir betaling van agterstallige lisensies vir 2008;
29 November - Kursus oor die gebruik van PICs;
30 November - Nominasies vir raadslede moet in wees;
30 November - Databasis van herhalers moet op datum wees;
30 November – Presidentsnet aangaande IARU-konferensie;
31 Januarie 2009 - Mosies en agenda-items moet in wees.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Gustav, ZS6BWN, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003